Dag 4 - God veg vir jou



_______________, ek roep jou gees tot aandag in die naam van Jesus Christus van Nasaret. Luister met jou gees na die Woord van God vir jou.
"... Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg" (Eks. 14:13-14 NV).


_______________, jou Vader se plan is dat jy in vrede in Hom sal rus terwyl Hy met jou vyande afreken. Ek seën jou met ’n onverskrokke hart wat jou innerlike vrede sal gee omdat God vir jou veg en jy nie self ’n wapen hoef te lig nie. Jy sal kyk en sien hoe God jou vyande voor jou verwilder en jou verlos. Somtyds sal jy vasstaan en soms sal jy nuwe grond verower terwyl jy die dinge doen waarvoor God jou geroep het, maar te alle tye sal Hy jou stryd vir jou stry. Ek seën jou om elke dag gehoorsaam te wees, in klein dingetjies maar ook in radikale, amper ondenkbare dinge, want dit posisioneer jou waar God namens jou kan veg.


Voordat Hy hulle vyande vernietig het, wou jou Vader gehad het dat sy volk volheid van vrede moes hê. Ek seën jou met ’n openbaring van die vrede wat God vir jou wil hê. Ek seën jou dat jou omstandighede wat kundig deur God uitgewerk is jou vyande van kant sal maak. Ek seën jou met situasies deur God bewerkstellig waar jy niks doen nie; waar jy nie hoef te baklei nie; waar jy staan en aanskou hoe God ’n probleem voor jou oë oplos, sodat jou vyande sal verdwyn en nie na jou toe terugkom nie. Ek seën jou met situasies wat deur jou Vader georkestreer is, en met geloof om te sien hoe Hy voorsien en jy nie hoef te vrees wanneer probleme jou bedreig nie.


Luister weer met jou gees na die Woord van die Here vir jou.
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6 OV). Jou Vader beplan dat jy Hom met groot geloof behaag. Ek seën jou met die vreugde om vir mense te sê hoe om verankerd en seker in Hom te wandel sodat hulle versterk kan word. Ek seën jou met getuienisse van God se ingryping in jou lewe – geloofstories wat so diep in jou gees ingeweef is dat wanneer jy dit met ander deel, dit hulle sal oplig. Dit sal hulle uit die greep van vrees bevry en geloof in hulle aanblaas, sodat hulle vorentoe sal kyk en na God sal uitroep om ook in húlle lewens in te gryp.


Ek seën jou om deur die Gees gelei te word sodat jy op probleme sal reageer met geloof en nie met die slagoffermentaliteit van vermyding, beskuldiging of rasionalisering wat by ’n slaaf hoort nie. Ek seën jou met ’n uithouergees in plaas van ’n gees wat uitsak en tou opgooi.
Ek seën jou om probleme te pak en dit te sien as uitdagings, as geleenthede om jou geloof te beoefen en as nuwe maniere om die verskeie fasette van God te sien en om te sien hoe Hy in en deur daardie probleme dinge sal uitwerk om in sy plan te pas.


Ek seën jou om God se teenwoordigheid te sien in daardie dinge wat die wêreld problematies en pynlik noem. Ek seën jou met so ‘n geloof dat jy jou kan verbly en kan vasstaan wanneer gevaar dreig en dat jy kan sien hoe God namens jou op ’n bonatuurlike manier ingryp om jou vry te maak en om jou vyande te verjaag sodat hulle nie weer sal indring in jou lewe nie. Ek seën jou met die geloof om verby die onmiddellike prys te kyk en die skat te sien wat aan die ander kant wag.
Ek seën jou met ’n ontvanklike gees sodat jy die beloning kan ontvang wat bestem is vir hulle wat God soek.


_______________, luister weer met jou gees na die Woord van God. “As die Here tevrede is met ’n mens se lewe, laat Hy selfs so ’n mens se vyande in vrede met hom lewe” (Spr. 16:7 NV). Jou Vader beplan dat selfs jou vyande sal sien dat Hy tevrede is met jou. Die hoogste vlak van God se beskerming is waar jou vyande in vrede met jou wil saamleef. Ek seën jou met daardie vlak van die guns van die Here op jou lewe dat dit vir ander maklik sal wees om te sien dat jy ’n intieme verhouding met God het en dat Hy met jou is. Ek seën jou dat mense sal erken dat die guns van God op jou lewe rus, sonder om jaloers te wees op sy seëninge in jou lewe. Ek bid dat wanneer hulle sy guns raaksien, die vrees van die Here op hulle sal kom en dat hulle ’n heilige eerbied sal hê op grond van jou intieme verhouding met God.


Ek seën jou met  so ’n stralende Godsguns oor jou lewe dat mense sal erken dat daar iets anders in jou gees is en dat hulle guns by jou sal soek omdat hulle nie di
é God wil beledig met wie jy in verhouding is nie. Ek seën jou met mense wat sal bevestig en getuig dat die guns van God op jou rus.


Ek seën jou dat jou weë die Here sal behaag op so ’n besondere manier dat jou vyande in vrede met jou sal leef en jou God sal soek.
Ek seën jou om ’n vredesbaken te wees in ’n wêreld vol onrus en verwarring. Ek seën jou om mense nader te trek wat smag na veiligheid en na ’n verhouding met die God met wie jy ’n verhouding het. Hulle sal honger na die God wat jou soveel guns gee.


Ek seën jou,
_______________, met die uiterste beskerming van vrede wat God gee aan diegene wat saam met Hom in sy guns wandel. Ek seën jou dat jou vyande in vrede met jou sal leef omdat hulle God se hand op jou sien. Ek seën jou met hierdie seëninge in die naam van Jesus Christus van Nasaret.


Antwoord met jou gees...

Skryf jou gedagtes neer